Zorada
word beskou as een van SA se voorste orrel-improvisators, veral
vir haar innoverende klankbaan-improvisasies vir die stomfilms
The Hunchback of Notre Dame, The Four Horsemen of the
Apocalypse en The Phantom of the
Opera. Sy is die eerste Suid-Afrikaner wat hierdie kunsvorm
aandurf. KYKnet neem binnekort ‘n DVD op van
The Phantom of the Opera.
Vir
haar grensverskuiwende bydrae tot Klassieke musiek is sy tydens
die KKNK 2006 met ‘n spesiale Kanna
vereer.
In 2007 ontvang sy die MJ
Thom toekenning vir uitmuntende onderwys van die FAK.
As
orrelis tree Zorada landwyd op in uitvoerings van
stomfilm-improvisasies, asook vrye improvisasies op kerkmusiek.
Optredes met orkeste sluit in die Kaapse Filharmoniese orkes met
Saint-Saens se Orrelsimfonie, en die Hugo Lambrechts
Simfonie-orkes met ‘n Handel-concerto. Sy het ook konsertreise
na België en Namibië onderneem.

Haar
eerste CD met orrelimprovisasies op kerkliedere, In Hemelse Taal (Linguis Angelorum), verskyn in 1998, ook ‘n eerste
van sy soort in Suid-Afrika.
Daarna volg nog twee CDs:
Lingua Gratiae (Taal van
Genade) en TWO
(Trumpet With Organ). As begeleier op klavier en
orrel het sy ‘n aandeel aan ‘n hele aantal CD’s. Haar derde CD
met orrel-improvisasies, Lingua Sancta (In Heilige Taal), is in 2010 vrygestel.
As begeleier op klavier en orrel het sy ‘n aandeel aan ‘n
hele aantal CD’s.
As pianis vorm sy saam met Elna van der Merwe die
Blondes, ‘n klavierduo wat klassieke sowel as ligte musiek verwerk
in tweeklavierkeurspele. Benewens optredes by die meeste
kunstefeeste, korporatiewe en privaat funksies, tree hulle in
2009 op uitnodiging in Israel en Lesotho op. In 2011 tree hulle
vir die eeste keer in Londen op.
In 2008 is hul eerste CD/DVD vrygestel met musiek van
Bach, Mozart, ABBA en die Beatles. Hul tweede CD met musiek van
Beethoven, Tchaikovsky en Queen, is in Mei 2010 vrygestel.
Optredes
as beoordelaar sluit in die ATKV Muziq 2010, Sanlam Nasionale
Musiekkompetisie 2010, Unisa Oorsese Musiekstudiebeurskompetisie
2007, die Beethoven- en Rachmaninoff-kompetisies (US
Konservatorium), asook die kunswedstryde van Stellenbosch en die
Overberg. Verder was sy vir twee jaar ‘n klavierpaneellid by die
Internasionale Kamermusiekfees (US Konservatorium). Sy beoordeel
gereeld koorkompetisies van die Onderwysdepartement, en was vir
jare eksaminator vir Musiek in die Senior Sertifikaat-eksamen
van die WKOD. Tans is sy nasionale eksaminator vir Nasionale
Departement van Basiese Onderwys en moderator vir Umalusi.
Zorada was tot 2007
Departementshoof: Musiek aan die Hoër Meisieskool Bloemhof op
Stellenbosch. In 1995 het
sy die Stellenbosch Nasionale Ensemble-Kompetisie gestig, en was
vir 11 jaar die hooforganiseerder daarvan. Tans is sy ‘n
vryskut-musikus.
Zorada is sedert 1986 orrelis van die Moedergemeente op
Stellenbosch, die eerste vroulike orrelis van hierdie
historiese kerk.